Wat is die verskil tussen idiome, spreekwoorde, spreuke en aanhalings?

Spreuke

'n Spreuk, bv. dié van Salomo en Langenhoven, bevat altyd 'n sedeles.

Hoe korter jy jou kuier maak, hoe gouer sal jy weer genooi word.

~ C.J. Langenhoven

Spreekwoorde

'n Spreekwoord is 'n stukkie waarheid of wysheid wat in die volksmond ontstaan het en wat as ‘n algemene waarheid beskou word.

Hy staan met sy een voet in die graf.
Betekenis: Hy is so na aan die dood asof sy een voet reeds in die graf is.

Idiome

'n Idioom is ook 'n spreekwoord, maar het gewoonlik 'n dieper betekenis wat uit die tradisies, geskiedenis en leefwyse van 'n volk gegroei het. Dis waarom idiome in Afrikaans nie noodwendig in Engels beskikbaar is nie. Dit is nie altyd moontlik om die betekenis van 'n idioom uit die woorde af te lei nie, en maak baie gebruik van figuurlike spraak.

Jy kan dit vir die bobbejane vertel.
Betekenis: Ek glo dit nie
Piet is been-af op Sannie
Betekenis: Piet is verlief op Sannie.